Die oudste suiwelkompetisie in Suid-Afrika het op 23 Februarie 2017 by Grand West in Kaapstad plaasgevind. Die Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe word reeds sedert 1834 deur Agri-Expo aangebied en word vanjaar weer deur DuPont, as platinum borg, ondersteun.
Die kampioenskappe is van die enigste in die wêreld wat vyf beoordellaar per kategorie gebruik ten einde ‘n meer akkurate uitslag te bekom. Die beoordelaars se kommentare word na die kampioenskappe teruggevoer na die deelnemers om produkkwaliteit te verbeter, innovasie aan te moedig en uitnemendheid in die suiwelbedryf te bevorder.
“Alhoewel dit die oudste Suiwelkampioenskappe in Suid-Afrika is, hou ons tred met die behoeftes deur gereelde konsultasies met die bedryf. Daar is dan vanjaar 2 nuwe klasse toegevoeg tot die kampioenskap vir melk en UHT melk. Hiermee is die kampioenskappe nou volledig met 9 katagorieë en 102 klasse vir eindprodukte in die prosesseringslyn van die suiwelbedryf,” sê Johan Ehlers, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri-Expo.
Die kampioenskappe word baie goed deur die bedryf ondersteun en 83 suiwelvervaardigers neem hierdie jaar deel, waarvan 13 vir die eerste keer deelneem. Vorige deelnemers het ook hierdie jaar vir die eerste keer produkte in ander klasse ingeskryf, wat dui op die groei in produkontwikkeling van bestaande vervaardigers.
Die beoordelaars het ‘n besonders hoë vlak van kundigheid en is onder die vaardige leiding van hoofbeoordelaar Kobus Mulder, bekende internasionale suiwelbeoordelaar. Die kampioenskappe maak ook voorsiening vir kontinuïteit deurdat jonger beoordelaars geleentheid kry om deel te neem. Vier van die beoordelaars is vorige studente wat internasionale opleiding ontvang het deur die gesogte Boergondië uitruilprogram van die Wes-Kaapse Departement Landbou, wat deur Agri-Expo gekoördineer is. Al vier beklee vandag senior posisies in die bedryf en ploeg hul kundigheid op hierdie manier terug.
Die Suid-Afrikaanse Kampioenprodukte, Qualité toekennings en Produk van die Jaar sal by die gesogte Agri-Expo Qualité Toekenningsdinee op 17 Maart 2017 by Grand West in Kaapstad aangekondig word.
Vir meer inligting besoek www.cheesesa.co.za of kontak Agri-Expo by [email protected] of 021-9754440.