Die Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe, geborg deur DuPont, het groot opgewondenheid veroorsaak deurdat dit die vorige rekords vir beide die aantal inskrywings sowel as vervaardigers oortref het. ‘n Fenominale 895 suiwelprodukte vanaf 85 vervaardigers is vanjaar in 97 klasse ingeskryf. Die produkte is deur ‘n span van 72 kundiges op 10 Maart 2016 by Grand West in Kaapstad beoordeel.
“Hierdie nuwe rekord is ‘n besliste aanduiding van die suiwelbedryf se toewyding om hul produkte se gehalte en bemarkbaarheid op ‘n konstante basis te verbeter. Dit wys ook die vertroue en hoë agting wat vervaardigers steeds het in ‘n kampioenskap wat terugdateer na ‘n eenvoudige begin in 1833”, sê Johan Ehlers, HUB van Agri-Expo.
Kieran Quinn, Suider Afrika se Verkoopsbestuurder vir DuPont Voeding en Gesondheid, stem saam met Ehlers. “DuPont is trots om die Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe te borg, omdat dit uitnemendheid regdeur die plaaslike suiwelwaardeketting erken. Die kampioenskappe vereer vervaardigers van suiwelprodukte vir hul harde werk om kwaliteit en innoverende produkte vir die mark te lewer. Dit verskaf ook ‘n unieke platvorm om suksesse in die bedryf te vier, wat weergegee word in plaaslike verbruikersherkenning.”
Die verrassende toename in bokmelkkase, wat 32 persent meer as verlede jaar is, wys dat bokmelkkaas ‘n baie groter rol in die Suid-Afrikaanse dieet begin speel, veral omdat hierdie tipe kaas toenemend deur die gasvryheidbedryf gebruik word. Bekende kase soos gouda, cheddar, feta en mozzarella bly op ‘n konstante inskrywingsvlak, ten spyte van ‘n toename in ander tipes kaasinskrywings. Roomys, wat steeds ‘n redelike klein kategorie is, wys op ‘n interessante tendens van kleiner, artisinale roomys, waar dit vroeër slegs produkinskrywings van kommersiële produsente was.
Beoordelaars speel ‘n belangrike rol in kampioenskappe van hierdie aard. “Die kundigheid van die beoordelaars lig die kampioenskappe tot ‘n vlak van uitnemende kwaliteit”, sê suiwelkundige en hoofbeoordelaar, Kobus Mulder. Mulder voeg self 50 jaar se internasionale ervaring tot die SA Suiwelkampioenskappe. Maar hierdie is ook ‘n gulde geleentheid om nuwe talent te ontwikkel en daarom is Linnea Burnham, ‘n jong student van die Verenigde State van Amerika, as gasbeoordelaar genooi vir die 2016 SA Suiwelkampioenskappe. Hierdie ervaring het haar eerstehandse kennis gegee van die hoogstaande gehalte en ‘n wye seleksie Suid-Afrikaanse suiwelprodukte. Burnham het ‘n beurs ontvang om kaas in enige land ter wêreld te studeer en sy het Suid-Afrika as een van ses lande gekies vir haar opleiding.
“Dis is goed om deel te wees hiervan (die kampioenskappe) en fantasties om te sien hoe Suid-Afrikaanse kase vorder en meer gesofistikeerd word”, sê Pete Goffe-Wood, bekende voedselkundige wat reeds ‘n aantal jare in die kaaskategorie beoordeel.
Na ‘n intense dag van beoordeling, gevolg deur ‘n streng ouditproses, word die klaswenners as SA Kampioene aangewys. Dit is wenners in elk van die 97 klasse in agt kategoriëe, naamlik kaas, botter, jogurt, suiwel nageregte, maaskaas, roomys, aangesuurde en gegeurde melk en suiweldoopsouse. Die Qualité merk word toegewys aan produkte van uitstaande gehalte en die uiteindelike wenproduk kry die toekenning as Suiwelproduk van die Jaar.
Die wenners sal by die gesogte Agri-Expo Qualité Toekenningsdinee op 27 April 2016 by Grand West in Kaapstad aangekondig word.